Kan goeie ouerskap altyd positief wees?
– Hettie Brittz van Immergroen Ouerskap
Daar is vir ouers deesdae soveel ‘goeie nuus’ in ouerskapboeke en –tydskrifartikels: Julle hoef nie meer julle kinders te straf nie! Julle hoef nooit weer seer konflik te hê in julle gesin nie! Julle kan slegte gedrag ignoreer en dit sal vanself weggaan! Julle hoef nooit weer hard te praat of hard te slaan nie! Wêreldvrede begin onder jou eie dak…!
Al hierdie ‘goeie’ nuus en raad is egter gebaseer op die humanistiese aanname dat mense inherent goed is. Mason Cooley het hieroor ‘n baie waar ding gesê: “Deur alle eeue heen het die sielkundiges probeer om die menslike natuur goed te praat, maar die geskiedenis van die mensdom hou maar aan om dié poging in die wiele te ry.”
Indien kinders wel geneig sou wees om vanself volwasse, verantwoordelik, inskiklik, onselfsugtig en deernisvol te word, sou ek AMEN! kon skree op al die beloftes dat ons nooit weer met woord en daad NEE! hoef te sê nie, maar helaas, vir ’n mens is dit afdraand na die slegte en opdraand na die goeie en daarom sal Christenouers altyd stoot en trek (en nie dikwels deur hulle kinders daarvoor bedank word nie!)
Ouerskap kan altyd positief wees in die opsig dat ons en ons kinders daardeur groei, maar die losstaande oomblikke gaan maar al die skakerings van die lewe wees. Sonder negatiewe ladings kan elektrisiteit nie vloei nie, en sonder pyn, wilsbotsings, daadwerklike dissipline en seer opofferings is ouerskap soos beurtkrag – ‘afgeskakel’ wanneer dit die nodigste is.